Daar is nie nog ’n tafel wat koring, canola en ander kleingraangewasse so skoon en maklik stroop soos ’n Geringhoff TruFlex nie. So sê boere in die Swartland, waar BHBW einde verlede jaar ’n uitgebreide demonstrasieprogram onderneem het.
Graanboere in die noorde van die land maak reeds dekades lank staat op Geringhoff se strooptafels in oestyd. Nou het BHBW, wat Geringhoff in Suid-Afrika versprei en intensief ondersteun, ook daarin belê om die voordele van dié Duitse tegnologie aan boere in die Swartland en omgewing bekend te stel.
Die terugvoer was oorweldigend, sê George Cockrell, heelgoederebemarker by die Geringhoff-handelaar op Malmesbury, Hennies Trekkers: “Die TruFlex-tafel het nie sy gelyke as dit kom by die volg van kontoere en ongelyke lande, en die vloei en hantering van materiaal nie.”
Veral die TruFlex Razor het presteer, sê George. “Omdat dié tafel op twee plekke kantel, volg dit die oppervlak van die landery baie akkuraat. Plantmateriaal word skoon afgesny oor die hele breedte van die tafel en eweredig ingevoer, sodat graanverliese beperk en die stroper se kapasiteit ten volle benut word. ’n Mens mis nie kolle teen skuinstes nie en hoef dus net een keer te stroop, wat tyd en brandstof bespaar. Danksy die tafel se kapasiteit, kan jy ook vinniger stroop.”
Afgesien van koring, hawer, lupiene, korog en gars het die TruFlex ook uitstekend gevaar in “moeiliker” gewasse soos kanola, waar ligte saad en fyn materiaal uitdagings bied; boerbone, wat ’n dik plantsteel het; en mosterd, ’n harde plant wat moeilik sluk.
Mnr. Gert Claassen van Windheuwel by Malmesbury het die TruFlex Razor-tafel in koring getoets, gepas op sy John Deere S690-stroper. “Ná ’n nat jaar moes ons baie laer stroop,” sê hy. “As gevolg van die tafel se vermoë om die grondterrein na te volg, kon ons selfs in ongelyke areas ’n snyhoogte van sowat 50 cm handhaaf. Die invoerkam (reel) kan ook verstel word om are by die grond op te tel, wat baie help met lê-koring. Ander voordele sluit in die lang oorgangsplaat voor die belt, wat verhoed dat klippe opspring, en die windstelsel, wat sade op die belt hou. Die TruFlex het aanvanklik gelyk na ’n gekompliseerde tafel, veral weens die windstelsel, maar dit is glad nie.”
Verstellings is eenvoudig, en met Geringhoff se noodstop-knoppie hoef ’n mens selde die kajuit te verlaat om van ’n verstopping ontslae te raak. Nadat die tafel tot stilstand gebring is, druk jy net die knoppie om eerstens die middelbelt en daarna die kantbelde in beweging te bring.
Afgesien van die tafels wat gedemonstreer is, verskaf BHBW ook TruFlex Razor-tafels van 40 vt. (12,2 m) en 45 vt. (13,7 m). ’n Kanola-toerustingpakket is ook beskikbaar.
KONTAK: NASIONAAL: Jou naaste Geringhoff-handelaar of Lizel Jansen by BHBW by 010 023 8800 of LJansen@bhbw.co.za. SWARTLAND: George Cockrell van Hennies Trekkers by 063 774 8220.